Monday, October 10, 2011

Chairman's Newsletter Oct 2011

Goeiedag, Klublede!
FVSA – kongres: 2012
Die FVSA (Fotografiese Vereniging van Suid Afrika), oftewel die PSSA (Photographic Society of South Africa) se Kongres vind aan die einde van Augustus 2012 hier aan die Weskus op Langebaan plaas. Die Weskus Fotografievereniging, met Nicky Bester as ons skakelpersoon, is gemoeid met die akkommodasie tydens die Kongres. Op hierdie stadium verloop alles volgens plan. Die Weskaap FVSA - kongreskomitee (bestaande uit die oorhoofse voorsitter van al die Fotografieklubs in die Weskaap, ander klubs se voorsitters en / of afgevaardigdes) vergader eersdaags weer (ná die FVSA – kongres 2011 by Hartebeespoortdam  ten einde gekom het) om verdere verwikkelinge te bespreek. Nicky sal ons op hoogte hou daarvan.

Kameras: sensor en kamera skoonmaak - R50,00 per kamera (“Clean it while you wait!”)
Chris Hart, ‘n baie deeglike en uiters ervare kamerategnikus is bereid om lede se kameras tydens ‘n Dinsdagaand se Klubaand skoon te maak vir slegs R50,00 per kamera. Chris sal die kameras skoonmaak terwyl ons ons foto’s laat beoordeel. Ek ken Chris al vir meer as twintig jaar en kan getuig van sy vaardigheid. Van ons klublede het al herstelwerk by hom laat doen en nog almal was baie tevrede met sy diens.
Indien enigeen sy of  haar  kamera wil laat skoonmaak, vra ek dat julle my asseblief vóór Saterdagaand , 8 Oktober 2011 kontak ( HYPERLINK "mailto:info@emilbosch.com" info@emilbosch.com of 082 776 8100) sodat ek kan reël dat Chris die skoonmaak Dinsdagaand, 11 Oktober kan doen.
Interklubaand: 28 Oktober 2011
Die Komitee versoek lede wat die Interklubaand in die Kaap gaan bywoon vriendelik om die koste (R50,00 per persoon) Dinsdagaand aan Susan Thiart te betaal, ten einde te verseker dat die kaartjies vanaf Vishoek Fotografieklub  aan ons gestuur kan word. Dit is baie belangrik dat hierdie kaartjies ons vóór die Interklubaand bereik!

Werkswinkel: Lig, Beligting en Komposisie – 18 Oktober 2011 om 18h30 by die Waenhuis
Hugo Germishuys gaan lede vaardiger maak as wat hulle reeds is en wel ten opsigte van bogenoemde. Die werkswinkel word vir klublede aangebied. Aangesien dit in die Klubgebou aangebied word, is dit ‘n goeie idee om benewens ‘n “flash” (kameraflits – hetsy ‘n aparte een of ingeboude een) ook ‘n driepoot saam te bring (indien ‘n lid wel een het). Ons beoog om teen 21h00 klaar te maak met die werkswinkel. Indien klublede wil, is hulle welkom om ook ‘n notaboek saam te bring ten einde aantekeninge te maak.
Werkswinkel: Modelle en veteraanmotors – 22 Oktober 2011 om 09h00
Tydens hierdie werkswinkel gaan lede “hersiening doen” van Hugo se werkswinkel oor Lig, Beligting en Komposisie. Ek sal hierdie werkswinkel lei.
‘n Aantal modelle van ‘n plaaslike modelskool (d.w.s. hulle wéét hoe om te poseer en dus kan die fotograaf op fotografie konsentreer en nie onwillige / beskroomde individue die heeltyd probeer oorreed om te poseer nie), asook twee of drie veteraanmotors gaan beskikbaar wees sodat fotograwe hulle  kan afneem. 
Indien belangstellende lede weerkaatsers (reflectors) het wat vir fotografie bedoel is, ‘n sonskerm vir ‘n motor (wit / silwer), ‘n “emergency blanket” (die foelie wat stappers op staptogte saamneem om hitteverlies te verhoed), of selfs ‘n groterige stuk polistireen, sal dit goed aangewend kan word tydens hierdie werkswinkel.
Bring asseblief ook jou kameraflits (flash) saam, asook jou kamera én flits se handleiding.
Ek hoop om Dinsdagaand die plek vir die werkswinkel (hopelik nie verder as 30 km vanaf Vredenburg nie) te kan aankondig. Ek is tans besig om die logistiek daarvan te bepaal.

Uitnodiging: Bloekom Boma  HYPERLINK "http://www.bloekombomavenue.co.za/index.html" http://www.bloekombomavenue.co.za/index.html
Carl Thom, eienaar van die Bloekom Boma, het die Weskus Fotografievereniging uitgenooi om te kom aansit vir ‘n heerlike potjie of twee op Saterdag, 15 Oktober 2011. Let wel! Hierdie is ‘n uitnodiging wat lede niks uit die sak gaan jaag nie, met ander woorde: Carl gaan ons gratis trakteer dié dag! 
Ons beoog om die potjies gereed te hê teen ongeveer 18h00, maar lede en hul gesinne is welkom om ‘n bietjie vroeër op te daag. Bring asseblief u eie alkoholiese verversings saam.
NB! Ten einde te verseker dat niemand honger ly nie, vra ek lede om so spoedig moontlik (sperdatum: 12 Oktober 2011) hulle getalle aan my deur te stuur, asseblief.
Kyk asseblief na die skakel (link) van Bloekom Boma (hierbo) vir meer inligting.

Klublede
Tydens ons onlangse Komiteevergadering is uitgewys dat ‘n aantal lede nie meer so dikwels ons Klubaande bywoon soos aan die begin van die jaar nie. Ek kan bespiegel dat van die redes daarvoor, onder andere die volgende mag wees: dat die Klubaande vervelig is; te tegnies is; die manier waarop foto’s beoordeel word, lede kwets; die Klub nie aan die behoefte van lede voldoen nie; ensovoorts.
Die één groot beweegrede waarom ons almal lede by die Weskus Fotografievereniging is, is omdat ons lief is vir fotografie. Juis daarom wil ek lede vra om die vraelys op die Klub se blog te voltooi. Hierdie vraelys is anoniem (‘n lid kan dus met die grootste vrymoedigheid sê wat haper – maar ook óf iets haper!) Die WKFV is nie die eiendom van die Komitee nie – dit behoort aan elke lid en juis daarom is dit belangrik dat almal voordeel trek uit die Klub. Ons hoor dus graag van julle, want ook óns wil die Klub (lees: fotograwe) sien groei in fotografievaardigheid en in die liefde vir ‘n wonderlike kunsvorm.

Vriendelike groete en alle voorspoed met die foto’s vir Dinsdagaand se kompetisie!
Emil

No comments:

Post a Comment